NOORDWES. – Vrou (61) op ‘n kleinhoewe in Goenkloof in Moonooi het Woensdagoggend ‘n vermeende aanvaller laat les opsê.
Kol. Adéle Myburgh sê aan Nuusflits die vrou het ‘n lawaai gehoor en ‘n verdagte teëgekom wat besig was om haar veiligheidshek oop te forseer. Die vrou het hom glo gevra wat hy doen en hy het haar toegesnou om stil te bly en gedreig hy sal haar doodmaak. Sy het daarop ‘n groot mes uit haar kombuis gegryp en met die verdagte, wat ook met ‘n mes bewapen was, fisies aan die buitekant van die veiligheidshek baklei. Sy het tydens die skermutseling ‘n steekwond aan die agterkant van haar nek opgedoen en was by ‘n dokter, wat steke in die wond gesit het.
Myburgh sê dit blyk die vrou het die verdagte teruggesteek. Hy het weggehardloop en is nog nie gearresteer nie.
Die Mooinooi-polisie ondersoek ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer.





