KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou, vermoedelik in haar 40’s, het Donderdagaand net na 22:00 in ‘n enkelvoertuigongeluk op die N2 naby die NPC-sementfabriek suid van Durban gesterf.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê paramedici het met aankoms op die toneel dadelik addisionele hulp en gevorderde lewensondersteunende paramedici ontbied. Die voertuig, met sewe insittendes, het beheer verloor en verskeie kere gerol. Insittendes is uit die voertuig op die snelweg gewerp. Die vrou is noodlottig beseer en paramedici het haar dood verklaar.
Die ander ses insittendes wat beserings van gering tot ernstig opgedoen het, is op die toneel gestabiliseer en na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer.
Omstandighede van die ongeluk is onbekend, maar die polisie was op die toneel en sal die ongeluk ondersoek.





