Vrou red lewens deur 250 eenhede bloed te skenk

Lees ook :

Foto's: Verskaf

MPUMALANGA. – Elza Bekker van Middelburg in Mpumalanga het Maandag vir die 250ste keer ‘n eenheid bloed aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens geskenk. Bekker is ‘n gereelde bloedskenker, maar fokus deesdae meer op bloedplaatjieskenking.

Bekker sê aan Nuusflits soveel mense wil nie bloed skenk nie, omdat hulle glo nie weet waar die bloed heengaan nie. Vir Elza is die skenkings so belangrik, omdat sy self ook kanker gehad het en bloed moes ontvang. Terwyl die feesseisoen en hierdie mylpaal vir haar hand aan hand gaan, vra sy dat die publiek asseblief bloed moet skenk. Elza verduidelik daar is soveel siektetoestande wat bloedoortappings tydens herstel en behandeling vereis. Maar sê sy, daar is ook diegene wat in oomblikke van trauma die bloed nodig het om te kan oorleef.

Onlangs het sy ‘n boodskap van dank ontvang van ‘n persoon wat sy ken, wat ook weens kanker bloed moes ontvang.

Elza verduidelik bloed kan elke 56 dae geskenk word, maar bloedplaatjies kan meer gereeld, elke tweede week, geskenk word. Sy is trots dat sy die afgelope vier jaar plaatjies kan skenk. En terwyl een eenheid bloed wat geskenk word drie lewens kan red, vra Elza in die gees van die seisoen, daar moet saam met haar geskenk word.

“Hierdie gaan nie oor my nie, maar wel daaroor dat ons in die gees van Kersfees sal gee,” sê Bekker beskeie oor die liefdesdaad wat haar nou in die nuus het, maar wat sy reeds al vir jare doen.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief