WAARSKUWING! Die video kan sensitiewe lesers ontstel.
VRYSTAAT. – Marina le Roux (81) het Donderdag gesterf toe ‘n weghol-veldbrand veroorsaak het dat haar huis op die plaas Geluk in Memel aan die brand geraak het.
AO Mmako Mophiring sê aan Nuusflits die Memel-polisie het omstreeks 17:50 ‘n klagte van een van die landelike veiligheidskomiteelede ontvang van ‘n vrou wat as gevolg van die wegholbrand op die plaas gesterf het. Haar gebrande liggaam is op die kombuisvloer aangetref.
“Sy is as Marina le Roux (81) geïdentifiseer, maar het onherkenbaar verbrand. Dit is nog nie duidelik hoe en wie die brand begin het nie.”
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen.
Burre Burger van Droogtehulp het op die insident reageer: “My hart sukkel, ek sukkel vandag. En dan as ek weet ‘n Boervrou het doodgebrand in ‘n verwoestende veldbrand skree ek sommer net!”
Burger is reeds besig om deur sy organisasie verskeie nood-hulpmiddele, onder meer voer en klere, na die area te versprei.
Petrus Nel het tydens nog ‘n plasing van Burger gesê: “Dis baie hartseer. Die “Tannie” wat oorlede is, was my MA….Mag haar pragtige siel rus in vrede. Ek bid vir al die boere in die omgewing en mag daar hulp gestuur word.”
Delene M Vosloo het die afsterwe van haar vriendin betreur: “Haar naam was Marina en sy was my vriendin vir 25 jaar. Ek was daar by haar huis net na sy verbrand was. My hart is stukkend oor die verlies van my vriendin. Sy sal altyd in my hart bly en ek mis haar vreeslik. My innige medelye vir jou Peet. Marina was altyd daar gewees vir jou en jou bygestaan no matter what. Sy het julle as haar eie grootgemaak en alles gegee sonder om te skroom. Ek weet sy rus nou saam met Mitz in die hemel.”