KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou, vermoedelik in haar 60’s, het vroeër vandag gesterf toe haar voertuig op die M13 rigting Durban by Fields Hill gerol en op sy dak te lande gekom het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê hulp is net na 10:30 vir ‘n enkelvoertuigongeluk ontbied. Paramedici het die voertuig op sy dak aangetref. Die bestuurder van die voertuig het vermoedelik beheer verloor, waarna die voertuig van die pad geswenk en teen ‘n wal af gerol het waar dit tot stilstand gekom het.
“Paramedici en brandbestryders is teen die wal af na waar die voertuig is om die toneel en beserings te assesseer.”
Slegs die vrou, wat noodlottige beserings opgedoen het, was in die voertuig. Sy is op die toneel dood verklaar. Haar liggaam is met behulp van ‘n tousisteem deur die brandbestryders en paramedici na die padoppervlak gebring.
“Verkeer was erg geraak, aangesien die SAPD die oorsaak van die botsing ondersoek.”






