Vrou tem Tafelberg vir fondsinsameling ná val

Lees ook :

Foto's: WSAR

WES-KAAP. – Tania Rosslee Morkel het reeds 38 van haar beplande 64 klimtogte in 64 dae op Tafelberg voltooi om só geld in te samel. Sy het op 13 September 2023, toe sy 64 jaar oud was, 18 meter ver op die berg geval en daarna vir haar lewe geveg.

Morkel, wat as Tafelberg se heldhaftige eerste dame, ‘n ware inspirasie, beskryf word, het reeds meer as R65 000 vir Wildernis-soek-en-redding (WSAR) en Tafelberg Nasionale Park (TMNP) ingesamel. Die WSAR sê Morkel het na die ernstige val op Tafelberg die inisiatief geloods en sy het reeds meer as die helfte van haar uitdaging voltooi. Dié organisasie bevestig voorts sy het reeds haar finansiële mikpunt bereik. Die gemeenskap word vir hul ondersteuning bedank en lesers word gevra om op die berg op die uitkyk vir Morkel te wees en aan te hou om haar aan te bemoedig.

Morkel sê die val in 2023 het haar hele lewe vir altyd verander. Haar niggie, wat ten tyde van die val by haar was, kon dadelik die WSAR vir hulp bel. ‘n Oostenrykse stapper, met ‘n mediese agtergrond, wat op die toneel afgekom het, kon haar stabiliseer totdat die reddingswerkers van WSAR haar bereik het. Morkel vertel die deskundige span het haar geassesseer en beplan hoe om haar na veiligheid en mediese hulp te neem. Drie uur later is sy deur Air Mercy Services na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal gevlieg.

Met meervoudige werwelfrakture, ’n gekraakte skedel, breinbloeding, gebreekte ribbes, ’n deurboorde long en ander interne beserings het sy 23 dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring. Daarna was sy vir weke in die Faircape Health-rehabilitasiehospitaal, waar sy gehelp is om by haar nuwe realiteit aan te pas. Toe Morkel beter begin voel en sterker word het, wou sy haar dankbaarheid teenoor die vrywilligers van die WSAR betuig en TMNP ondersteun. Deur die ingesamelde geld sal die WSAR toerusting kan aankoop en TMNP kan voetpaaie verbeter en tekens vir potensiële gevaar aanbring.

Elke klimtog is ongeveer 750 meter hoog, dus gaan Morkel probeer om 48 00 meter oor die 64 dae te klim. Enigiemand wat van die klimtogte wil meemaak, kan haar voor die tyd by 084 354 0120 bel. Morkel sê ook indien Tafelberg vir een of ander rede deur TMNP as onveilig vir klim beskou word, die betrokke dae nie in die 64 aaneenlopende dae ingereken sal word nie.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief