WES-KAAP. – ‘n Vrou (30) is Vrydag omstreeks 12:30 tydens ‘n plaasroof in Sonstraalweg, Paarl, deur ‘n verdagte met ‘n skerp voorwerp gedreig. Die Paarl-polisie het ‘n saak van huisroof geregistreer.
Volgens kapt. F.C. Van Wyk, polisiewoordvoerder, was die vrou in die kombuis van die plaashuis toe sy ’n geluid uit ’n agterkamer hoor. Toe sy gaan ondersoek instel, het sy op ’n manlike indringer in een van die slaapkamers afgekom wat haar met ’n skerp voorwerp gedreig het. Sy het na buite gehardloop en haar pa om hulp geroep.
Toegang tot die woning is deur ’n oop venster verkry. Die verdagte het met juweliersware, ’n elektriese boor en verskeie huishoudelike toestelle ter waarde van sowat R60 000 gevlug deur oor ’n heining te spring. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
Van Wyk het verder gesê enige bewerings oor onvoldoende dienslewering moet by die bestuur van die Paarl-polisie aangemeld word sodat dit ondersoek kan word. Hy het benadruk dat ernstige aantygings teen polisiebeamptes nie ligtelik opgeneem word nie en behoorlik geverifieer moet word.





