KWAZULU-NATAL. – ‘n Vroulike verdagte (42) gaan na verwagting vandag op aanklagte ingevolge terrorismewetgewing in die Durban-landdroshof voorkom.
Brig. Thandi Mbambo van die Valke sê die verdagte het haar vanoggend by Durban-Sentraalpolisie oorgegee. Die arrestasie spruit uit ‘n ondersoek van die Durbanse eenheid vir ernstig georganiseerde misdaad nadat onrus KZN in 2021 tot stilstand gebring het en die dood van meer as 300 mense gekos het.
Met die ondersoek is daar tot dusver 69 persone gearresteer en een skuldigbevinding gemaak.
Volgens Newzroom Africa is die vroulike verdagte Duduzile Zuma-Sambudla, dogter van die voormalige president, Jacob Zuma. Sy word deur haar pa en tweelingbroer, Duduzane Zuma, bygestaan.





