OOS-KAAP. – ‘n Pa van die VSA (56), wat vir byna ‘n dekade op die vlug was, sal vandag in die hof verskyn. Hy is Woensdag op aanklagte van verkragting en seksuele aanranding van sy eie minderjarige dogter by sy huis in in Kabegapark, Gqeberha, in hegtenis geneem. Die dogter was destyds 12 jaar oud.
Volgens die nasionale polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda van Wyk, het die slagoffer se ma reeds gedurende 2017 die saak by die San Antonio-polisiedepartement in die VSA aangemeld. Die verdagte sou sy dogter oor ‘n tydperk verkrag en eksplisiete boodskappe aan haar gestuur het, waarna hy met voltooiing van die ondersoek uit die VSA gevlug het. Interpol se nasionale sentrale buro in Pretoria het hom uiteindelik in die Oos-Kaap opgespoor en in samewerking met die intervensietaakspan van die Nelson Mandelabaai-distrik, misdaadbestrydingseenheid en Mount Road-misdaadintelligensie in hegtenis geneem.
Die verdagte sal na verwagting vandag in die Gqeberha-landdroshof voorkom, waar die Amerikaanse regering formeel vir sy uitlewering aansoek sal doen.





