Vyf familielede sterf in ongeluk

Lees ook :

Foto: Facebook

LIMPOPO. – Minette van Wyk (33), Joanette Claasen (10), JH Snyder (13), Christiaan van Wyk (10) en Dawie Snyder (39) het Vrydagaand omstreeks 22:10 op die N1, buite Polokwane in die Ysterberg-omgewing, naby Potgietersrus, in ‘n ongeluk gesterf.

Volgens ‘n BackaBuddy-profiel was Minette, wat op 4 November verjaar het, ‘n visumagent van Lifetime Opportunities vir H2A-werkers in die buiteland. Joanette Claassen en JH Snyder is Van Wyk se kinders, Christiaan van Wyk haar stiefseun en Dawie Snyder haar broer.

Haar broer, Dawie Snyder, wat ‘n H2A-werker in Amerika is, het vroeër die dag in die land aangekom. Van Wyk se man, Flippie, en sy dogter, het op die ongeluk afgekom.

Skarebefondsing is begin om die familie met die begrafniskostes by te staan. Enige fondse wat oorbly, sal vir traumaberading aangewend word.

Die Road Traffic Management Corporation (RTMC) sê ‘n wit Volvo-sedan, wat gerol het, was die enigste voertuig in die ongeluk.

“Voorlopige verslae dui daarop dat die voertuig suidwaarts op die N1 gery het toe die bestuurder na bewering beheer verloor het, wat veroorsaak het dat die voertuig omgeslaan en in nabygeleë bosse tot stilstand gekom het. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek en die voertuig sal vir verdere ondersoek beveilig word.”

Laerskool Krugerpark en Laerskool Piet Hugo het medelye met die afgestorwenes betuig:

“Dit is met erge hartseer en leedwese dat ons verneem het van Christiaan van Wyk (Gr.4) se afsterwe gisteraand in ‘n motorongeluk. Ons as skool bid vir sy familie en maatjies in hierdie bitterlike hartseer tyd. Ons bid vir die nodige vertroosting en hou almal in ons gebede. Hierdie leerder met sy glinsterende ogies gaan vir seker gemis word op die skoolterrein.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief