Waarskuwing! Die foto in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.
GAUTENG. – Adv. Roelof du Plessis, ’n waarnemende regter en ook ‘n senior advokaat, word van poging tot moord op Conrad Pretorius aangekla. Barry Bateman, die woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê in ‘n verklaring dit kom ná AfriForum vertoë tot die NVG gerig het. Die advokaat was die regsverteenwoordiger van Janusz Waluś, Chris Hani se moordenaar, tydens sy paroolappèl.
Bateman sê Pretorius en sy vrou het op 1 Augustus 2023 in Menlopark gery toe hulle glo vir Du Plessis teëkom. Volgens bewerings het ’n woordewisseling, wat ‘n padwoede-voorval blyk te wees, ontstaan, wat daartoe gelei het dat Du Plessis vir Pretorius sowat vyf kilometer agternagesit en hom in ’n doodloopstraat vasgekeer het. Pretorius beweer Du Plessis het hom met ’n sakmes in die nek en been gesteek. Hy is met lewensgevaarlike beserings in die hospitaal opgeneem en later ontslaan. Terwyl hy in die hospitaal was, het hy ontdek die advokaat het ook ‘n kriminele klag teen hom ingedien. Pretorius het reeds verskeie kere in die hof verskyn, waartydens die privaatvervolgingseenheid vertoë tot die NVG gerig het om die besluit te heroorweeg om hom die beskuldigde in hierdie saak te maak. Aanklagte teen Du Plessis is intussen laat vaar.
Volgens adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, is die kernkwessie in die saak of Du Plessis in privaat verdediging opgetree het toe hy Pretorius gesteek het.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê Pretorius moes nooit in ‘n saak waarin hy duidelik die slagoffer was, aangekla gewees het nie. “Ons prioriteit is nou om te verseker dat die saak vinnig op die rol geplaas en vervolg word sodat geregtigheid kan geskied.”
Pretorius sê: “Die wete dat daar geen vervolging teen my is nie, of dat hulle nie meer probeer om my te vervolg nie, lig ’n geweldige las van my skouers af. Ek sien uit daarna om te sien wat met die saak gebeur.”
Die NVG sal die eerste hofdatum bevestig.
Druk hier om die volledige verklaring te lees.






