GAUTENG. – Die waarnemende skoohoof van Hoërskool Northview is Dinsdag ses keer in sy kantoor op die skool se perseel geskiet en gewond.
Steve Mabona, woordvoerder vir die onderwysdepartement, sê volgens inligting het twee gewapende mans die perseel betree en voorgegee om ‘n kwotasie vir ‘n boom wat afgekap moes word, te gee. Hulle is by die waarnemende skoolhoof se kantoor in en het op hom geskiet. Hy is na ‘n mediese fasiliteit gehaas en is tans in intensiewe sorg.
Mabona sê die insident word deur die polisie ondersoek.
Die skool se leerlinge en onderwyspersoneel word deur die departement ondersteun.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê aan Nuusflits die insident het omstreeks 09:00 plaasgevind. Die motief is tans onbekend. ‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.





