WES-KAAP. – Na ‘n insident met ‘n rob en vryduikers Maandag op Windmillstrand, suid van Simonstad, is ‘n waarskuwing opnuut aan swemmers gerig.
Die NSRI sê die Stad Kaapstad het die situasie vinnig en effektief hanteer.
Scotty Tait van Swim Cape Town sê swemmers moet liefs die gebied tussen Fishermanstrand en Seaforthstrand vermy en elders swem. Simon’s Town Safety and Security Watch het ook gemaan swemmers moet eerder elders swem.
Met die uitbraak van hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe word swemmers gevra om nie alleen te swem nie, met ‘n sleepvlot en veiligheidsfluitjie te swem, om eers op te let vir vis en robaktiwiteite waar geswem gaan word, vars water en eerstehulptoerusting in ‘n motor beskikbaar te hê en die belangrikste, om ongewone of aggressiewe marinelewe by 021 021 480 7700 aan te meld. Andersins kan die NSRI by 082 994 7555 gebel word. Dit is ook handig om ‘n plaaslike hospitaal se nommer byderhand te hê om vas te stel of die fasiliteit oor entstof teen hondsdolheid beskik.
Indien robbe teenwoordig is, moet daar afstand tussen die dier en die swemmer gehandhaaf word en die rob moet vermy word. Robbe moet ook nie aangeraak of gevoer word nie. Indien enige ongewone gedrag van die dier opgemerk word, moet owerhede dadelik ingelig word.





