GAUTENG. – Die polisie in die Tshwane-distrik het ‘n waarskuwing uitgereik aan vragmotorbestuurders en vervoeroperateurs teen ‘n gevaarlike kapingsmetode wat onlangs in die Akasia-polisiëringsgebied kop uitgesteek het.
Volgens kapt. Johan van Dyk, kommunikasiekoördineerder van die Tshwane-distrik, het die voorval op 22 Mei teen ongeveer 14:00 langs die R566 naby Rama City plaasgevind. ‘n Bestuurder en sy bemanning was op pad na Rosslyn om rubbermatrasse op te laai toe hulle hulle in ‘n lokval vasgeloop het. Die slagoffers is na bewering voorsien van ‘n afleweringsadres en meegedeel dat hulle ‘n persoon bekend as “George” sou ontmoet wat hulle na ‘n punt sou lei.
Langs die R566 is hulle genader deur ‘n onbekende man wat homself as “Chabi” voorgestel het en beweer het dat George hom gestuur het om hulle te begelei. Die slagoffers het hom verby Rama City gevolg, op ‘n grondpad wat hulle in ‘n beboste gebied ingelei het. Met aankoms is hulle deur twee verdagtes in veiligheidsuniforms gekonfronteer, wat vuurwapens op hulle gerig en hulle uit die vragmotor laat klim het. Die slagoffers is die bosse ingeneem, waar hulle hande en voete vasgebind is voordat die verdagtes met die wit Hino-vragmotor, van ongeveer R1,5 miljoen gevlug het.
Na verskeie ure het die slagoffers daarin geslaag om hulself los te maak en na die R566 geloop, waar ‘n verbygangende motoris hulle gehelp en die Akasia-polisiekantoor gekontak het. Geen skote is geskiet nie en geen beserings is aangemeld nie.
Van Dyk se waarskuwing is aan vervoeroperateurs, vragmotorbestuurders en die publiek gerig om waaksaam te bly. Die identiteit van die verdagtes is tans onbekend en die ondersoek duur voort. Enige verdagte aktiwiteit kan by die naaste polisiekantoor aangemeld word.





