LIMPOPO. – Die polisie het ’n dringende waarskuwing aan die publiek gerig na aanleiding van ’n toename in misdadige aanvalle wat spesifiek op saamryers gemik is.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits ’n gespesialiseerde taakspan is gemobiliseer om hierdie gekoördineerde aanvalle, wat ’n doelgerigte en herhalende modus operandi toon, te ondersoek en verdagtes vas te trek. Verskeie ernstige voorvalle is onlangs in die Capricorn- en Mopani-distrikte aangemeld.
Op 7 Junie is ‘n taxibestuurder glo deur twee verdagtes vir ’n saamrygeleentheid in Maake genader. Toe hy by ’n winkel stop, het een verdagte hom met ’n vuurwapen gedreig en sy voertuig en kontant gesteel. Op 10 Junie is ‘n vroulike ryloper glo in Polokwane deur drie verdagtes in ’n blou Polo opgelaai. Sy is na ’n afgeleë plek geneem, met ’n vuurwapen gedreig, van selfone en kontant beroof en daarna agtergelaat. Op 11 Junie is ‘n manlike ryloper op die R71 in Mopani glo deur drie verdagtes in ’n bruin Polo opgelaai. Hy is na ’n grondpad geneem, van kontant, ‘n selfoon en dokumente beroof, gedwing om geld oor te dra en uiteindelik naby die Mall of the North agtergelaat. Verskeie soortgelyke gevalle is in Polokwane en Mankweng aangemeld, wat dui op ’n georganiseerde kriminele netwerk wat oor distriksgrense heen werksaam is.
Die multi-dissiplinêre taakspan bestaan uit ondersoekbeamptes, intelligensie-operateurs en taktiese eenhede en sal werksaamhede in die betrokke gebiede koördineer om verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





