Walmer-polisie slaan op vermeende huisrowers toe

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Die Walmer-polisie het Saterdag binne ure na twee beweerde huisrowe ses verdagtes in hegtenis geneem en vermoedelik gesteelde eiendom teruggekry.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê na bewering is ‘n klaer en sy vrou in die oggendure in ‘n huis in Fairview deur vier verdagtes met messe gedreig en vasgebind. Die huis is geplunder en daar is met eiendom gevlug. Polisielede op patrollie het ‘n verdagte VW Golf opgemerk en gesien hoe ‘n televisiestel oor ‘n heining aangegee word. Die verdagte voertuig het weggejaag en teen die polisievoertuig probeer vasry. ‘n Waarskuwingskoot is deur die polisie geskiet, waarop die bestuurder van die VW Golf en die ander verdagtes gevlug het.

‘n Soektog is geloods en ‘n persoon is gehoor wat om hulp skree. Daar is op die slagoffers wat in hulle kamer toegesluit was, afgekom.

‘n Polisiebeampte wat van diens af by ‘n vulstasie was, is ingelig van ‘n vrou wat glo by haar huis in Pinelands beroof is. Sy was by die vulstasie en het probeer om die polisie te bel. Sy is na bewering in haar huis wakker geskud en met ‘n mes gedreig, waarna sy gedwing is om met ‘n verdagte en vermoedelik gesteelde items na Walmer te ry. Sy het weggery toe die items afgelaai is.

Die polisielid het ander lede ingelig en met die soektog na die verdagte van die tweede saak is die VW Golf geparkeer opgemerk. Polisielede het die huis takties benader, waarna ses verdagtes in hegtenis geneem is en gebuite items van beide die huise teruggevind is. Daar is op ‘n replika van ‘n vuurwapen en dwelms beslag gelê.

Die verdagtes het vandag vir aanklagte van huisroof en die besit van dwelms in die Gqeberha-landdroshof verskyn.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief