TUINROETE. – Die Khayalethu-reservoir in die Knysna- munisipale area moes noodgedwonge leeggemaak word nadat die liggaam van ‘n onbekende man Sondag daarin gevind is. Die dam word tans deeglik volgens voorskrifte ontsmet.
Sers. Christopher Spies sê Knysna-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek oopgemaak nadat die man se liggaam uit die reservoir gehaal is.
Voorlopige ondersoek dui aan munisipale personeel het tydens ‘n inspeksie by die reservoir beweging in die water gemerk. Die polisie is ontbied waarna polisieduikers die liggaam uit die water gehaal het. ‘n Nadoodse ondersoek was Woensdag gedoen om die oorsaak van die oorledene se dood vas te stel. Die uitstaande verslag is deel van die polisie se voortdurende ondersoek.
Spies sê die polisie is in die proses om die oorledene te identifiseer.
Volgens Knysna-munisipaliteit bedien die reservoir die gemeenskap van Khayaletha, Dam-Se-Bos, Hlalani, Oupad, Kalkol, 7deLaan en nog ander omliggende areas.
Met dié skoonmaak van die reservoir wat verskeie dae kan neem, is sewe watervragmotors na die gebied gestuur. Sommige van die vragmotors kom van omliggende munisipaliteite en word ook na ander gedeeltes in die Knysna-gebied ontplooi.
Buiten die liggaam wat in die reservoir gevind is, gaan die gebied onder ‘n watertekort gebuk.
FiND iT het Knysna-munisipaliteit vir kommentaar gevra.
Bronne: SAPD en Knysna Munisipaliteit
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





