Het jy al die storie van die arend gehoor?
Blykbaar lewe hierdie merkwaardige voël tot 70 jaar, maar daar’s ‘n vangplek.
As die arend ongeveer 40 jaar oud is, het hy ‘n keuse om te maak. Sy ou vere is swaar en oneffektief, sy kloue lank en sy snawel swak. Hy kan aangaan soos normaal, maar dan sterf hy ongelukkig vinnig daarna. Of hy kan die tweede – en verreweg die moeilikste – opsie gebruik.
Hy vlieg na sy nes in die berge en verdwyn vir maande lank in isolasie. Gedurende hierdie tydperk kap hy eerstens sy snawel teen ‘n rots stukkend. Ouch! Nadat dit uiteindelik teruggegroei het, gebruik hy daai einste snawel om al sy kloue uit te trek, sowel as die ou vere. En as dit weer teruggegroei het dan lewe die arend vir nog 30 jaar verder!
Dis ‘n rowwe, nare storie, maar tog ook ‘n baie bemoedigende een! Ons kan so baie by die natuur leer en hierdie is geen uitsondering nie. Jy kan jouself dalk op ‘n plek in jou lewe bevind waar dinge nie te goed lyk nie, waar jy selfs oorweeg om op te gee.
Jy kan, maar jy weet natuurlik wat die uitkoms dan sal wees. Of jy kan die moeilike opsie soos die arend kies en jouself afsonder en oorbou. Al daai slegte gewoontes en gesindhede uitpluk of stukkend kap. Introspeksie doen van waar jy is en waar jy wil wees. Jou lewe heeltemal omswaai en ‘n nuwe begin maak. Hierdie proses is brutaal en seer, en sal ook verskil van persoon tot persoon. Maar die silwer randjie is dat jy ‘n nuwe mens aan die anderkant sal uitkom en sal hoog vlieg soos die arend daarbo!
Indien jy jouself tans in so ‘n oorgangstydperk bevind, hetsy fisies of geestelik, dan wens ek jou alle sterkte vir die toekoms toe en bid jy maak die regte besluit. Jy weet wat dit is!
*Dié storie is moontlik ‘n mite, maar ons kan almal daaruit leer.





