LIMPOPO. – ‘n Weermaglid (53) wat buite Mookgophong gestasioneer is, is vir mediese behandeling onder polisiebewaking in ‘n hospitaal nadat hy glo Sondagoggend sy tienerseun (17) in die Levubu-polisiëringsgebied doodgeskiet en daarna probeer het om sy eie lewe te neem.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die voorval het net ná 06:00 die oggend gebeur. Levubu-polisie het ‘n oproep ontvang oor ‘n man wat sy seun geskiet het en daarna met die vuurwapen probeer het om selfdood te pleeg. Met aankoms op die toneel is die man lewend met ‘n handwapen langs hom in ’n plas bloed op die grond aangetref. Verskeie patroondoppies is naby gevind. Die liggaam van die tienerseun is met skietwonde aan die kop in die huis op ‘n bed aangetref.
Die motief vir die voorval is nog onbekend, maar gesinsgeweld kan nie uitgesluit word nie, aangesien die twee alleen in die huis gewoon het.
Lt.genl. Thembi Hadebe het die voorval ten sterktste veroordeel. “Ek doen weer eens ’n beroep op families om professionele hulp te soek wanneer hulle huishoudelike uitdagings ervaar, in plaas daarvan om tot geweld oor te gaan.”





