VRYSTAAT. – Jannie Borman (73) is Saterdagaand by die Vaal-renbaan in Viljoensdrif vermoor. ‘n 55-jarige verdagte wat op dieselfde perseel woon, het na bewering ná die gebruik van alkohol met Borman in ‘n meningsverskil oor renperdweddenskappe betrokke geraak. Die meningsverskil het glo geëskaleer, waartydens die verdagte sy werkgewer met ’n graaf aangeval het.
Sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, sê die verdagte het later die voorval by ’n veiligheidsbeampte aangemeld, wat onmiddellik nooddienste ontbied het. Die polisie en ambulanspersoneel het die slagoffer leweloos in sy woning aangetref en hy is op die toneel dood verklaar. Die verdagte sal binnekort op ‘n aanklag van moord in die Sasolburg-landdroshof verskyn.
Die Vaal-afrigter se moord het die perdewedrenbedryf in rou gedompel. Borman, wat geskei was, het jonk sy loopbaan in perde-afrigting onder leiding van sy stiefpa, Henry Sham, op ’n plaas in Postmasburg begin. In hierdie omgewing het Borman sy vaardighede in perde-afrigting ontwikkel en later ’n gerespekteerde figuur in die wéreld van perdewedrenne geword. Kollegas en die breër perdewedrengemeenskap onthou Borman as ’n toegewyde afrigter wat ’n merkwaardige bydrae tot die bedryf gemaak het. Hy was vir baie ‘n geliefde vriend en kollega. Hy het vier dae voor sy dood nog ‘n oorwinning behaal.
Borman word deur drie kinders oorleef.
Bronne: SAPD, SAHorceracing.COM, SA Bloodstock Agents, The Horseman Professional Tips, Turf Talk Hoseracing, 4Racing, Racing Today





