Die 2026 Suid-Afrikaanse Judo-kampioenskappe het Saterdag in Gqeberha (Port Elizabeth) op ‘n opwindende noot ten einde geloop met die tradisionele spangevegte tussen die land se verskillende distrikte wat vir groot opwinding gesorg het.
Een van die hoogtepunte van die laaste dag was die senior dames-spangeveg, waar die Wes-Kaapse nooiens met die goue medalje weggestap het. Die wenspan was ‘n gekombineerde span wat bestaan het uit judokas van die Cape Town Judo Association (CTJA), wat die Westelike-Provinsie verteenwoordig, en die Cape Winelands Judo Association (CWJA), wat Boland verteenwoordig.
Die samewerking tussen die twee distrikte het vrugte afgewerp, met die span wat deurgaans uitstekende tegniek, spanwerk en deursettingsvermoë getoon het om die nasionale titel in te palm.
By die senior mans was dit ‘n gekombineerde span van Johannesburg en Tswane Judo wat die kroon gespan het en die goue medalje in die spankompetisie verower het ná ‘n reeks indrukwekkende vertonings.
Die spangevegte het ‘n gepaste afsluiting gebied vir ‘n kampioenskap wat oor vier dae die beste judokas uit al nege provinsies byeengebring het. Die hoë standaard van kompetisie, sportmangees en vasberadenheid wat deur die deelnemers getoon is, het weereens bevestig dat Suid-Afrikaanse judo steeds op ‘n sterk grondslag voortbou.
Sien ook: https://nuusflits.com/suid-afrikaanse-judokampioenskappe-lok-land-se-beste-judokas-na-gqeberha/





