INTERNASIONAAL. – ‘n Paar robynrooi skoene, een van vier pare wat nog bestaan en deur Judy Garland as Dorothy Gale in die 1939-film The Wizard of Oz gedra is, is Saterdag op ‘n veiling vir $32,500 m. verkoop.
Dit maak die skoene die waardevolste filmmemorabilia-item wat ooit op ‘n veiling verkoop is.
Die bieëry het op $1.55 m. begin en daar is geskat die skoene sal vir ongeveer $3 m. of meer verkoop word. Die wenbod is op $28 m. toegestaan, maar die bieër het nog $4.5 m. in fooie aan Heritage Auctions betaal.
Die skoene, wat aan Michael Shaw behoort, is in Augustus 2005 deur Terry Jon Martin (77) uit die Judy Garland-museum in Minnesota gesteel. Dertien jaar later het die FBI ‘n wenk ontvang en die skoene is teruggevind. Dit is aan Shaw teruggegee, waarna hy dit aan ‘n museum geleen het. Hy het dit Saterdag vir die veiling beskikbaar gestel.
Die Judy Garland-museum het ook Saterdag onsuksesvol op die skoene gebie.
Hier onder is foto’s van @joshdavidjordan van die oomblik toe die bod toegestaan is.


Bronne: The Judy Garland Museum, Heritage Auctions, Heritage Auctions Entertainment & Pop Culture, NBC News en Associated Press (AP)





