GAUTENG. – Xander van Niekerk (14), ‘n gr. 8-leerling van Hoërskool Fochville, het ‘n ernstige rugbesering tydens ‘n wedstryd op ‘n rugbytoer in Witrivier, in Mpumalanga, opgedoen en moet Woensdag ‘n operasie ondergaan.
René Gous sê op sosiale media haar kleinseun is tans in die Rob Ferreira-staatshospitaal en het ’n “rugmurgfraktuur op T12 opgedoen en die L1 het uitgehaak”. Volgens Gous sal hy ’n operasie ondergaan om sy ruggraat met ‘n plaat en skroewe te stabiliseer, waarna ’n lang herstelpad wag wat opvolgbehandeling en fisioterapie behels. Alhoewel hy kan beweeg, bly sy toestand ernstig en verg dit uitgebreide mediese sorg. Die gesin word tans deur beduidende uitgawes, insluitend verblyf- en reiskostes, asook die reël van privaat ambulansvervoer terug na Fochville, in die gesig gestaar.
Gous sê Hoërskool Fochville het aangebied dat alle finansiële hulp vir Xander en sy ouers direk in die skool se rekening in betaal word, met die verwysing “Xander.” Die skool se bankbesonderhede is by die foto’s van Xander hier onder ingevoeg.
“Ek as ouma en die gesin sal werklik enige donasie waardeer, of selfs as jy net kan “share” asb. Ons bid, glo en vertrou dat ons Hemelse, Almagtige God hom volkome sal genees.”






