WES-KAAP. – Altesaam 16 passasiers het gesterf toe ‘n bus vanoggend omstreeks 01:30 naby Touwsrivier omgeslaan het. Die bus, met sowat 78 passasiers aan boord, was van Kaapstad na Idutywa in die Oos-Kaap onderweg. 20 passasiers is beseer en vir behandeling na die Worcester-hospitaal geneem.
Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sê voorlopige inligting dui daarop dat die bestuurder vermoedelik uitgeswaai het om ‘n botsing met ‘n afleweringsvoertuig te vermy. Hy het daarna beheer oor die bus verloor, waarna die voertuig omgeslaan het. Nog 43 ander passasiers het mediese behandeling op die toneel geweier.
Die oorsaak van die ongeluk word deur die RTMC en die polisie ondersoek.





