LIMPOPO. – ’n 18-jarige verdagte is in hegtenis geneem ná ’n skietery tussen wildbewaarders en vermeende wildstropers in die Krugerwildtuin. Die jong verdagte is met ’n skietwond aan sy been op die toneel aangetref. Vier ander verdagtes het daarin geslaag om weg te kom.’n Buffelkarkas met ’n geraamde waarde van R80 000 is naby die verdagte gevind. Die buffel is vermoedelik met pangas geslag.
Die voorval het Donderdag omstreeks 15:30 in die Xipala-blok in die Vhembe-distrik plaasgevind. Die jong verdagte is met ’n skietwond aan sy been op die toneel aangetref. Vier ander verdagtes het daarin geslaag om te vlug.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie is deur ’n wildbewaarder oor die skietery in kennis gestel en het hulle na die toneel gehaas. Volgens voorlopige inligting was die 18-jarige deel van ’n groep van vyf wat na bewering by wildstropery betrokke was. Die groep het glo op die naderende wildbewaarders begin skiet.
Die verdagte is hospitaal toe geneem vir behandeling en daarna onder polisiebewaking geplaas. Hy sal na verwagting Maandag op aanklagte van poging tot moord en wildstropery in die landdroshof op Saselamani verskyn. Die polisie soek steeds na die vier ander verdagtes.