Brekende Nuus
Nuus

TMPD stel interne ondersoek in ná saak teen beampte teruggetrek is

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die Tshwane-metropolisie (TMPD) het ’n interne dissiplinêre ondersoek ingestel na sers. Lucas Thomas Nkolele, nadat ’n strafsaak teen hom, wat met bewerings van geslagsgebaseerde geweld verband hou, ná sy hofverskyning teruggetrek is.

Die TMPD het in ’n mediaverklaring op 6 November bevestig dat Nkolele op 1 November deur die polisie in Rietgat in hegtenis geneem is op bewerings van gewone aanranding en opsetlike saakbeskadiging. Opod (onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat) het ook ’n afsonderlike ondersoek na sy optrede geopen.

Die departement sê hy het onmiddellik met ’n interne dissiplinêre ondersoek begin om die omstandighede van die voorval vas te stel. Die TMPD beklemtoon sy geenverdraagsaamheidsbeleid teenoor geslagsgebaseerde geweld, die moord op vroue en enige vorm van misdaad of wangedrag binne sy geledere.

Die rede vir die terugtrek van die strafsaak is nie in die verklaring verstrek nie.