GAUTENG. – Michael Lomas en Hudson Kgomoeswana is deur die Johannesburg-hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis, nadat hulle skuld beken het op altesaam 34 aanklagte wat verband hou met die R1,4 miljard-korrupsiesaak van Eskom se Kusile-kragstasie.
Henry Mamothame, woordvoerder van die NVG-ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac), sê Lomas het skuld erken op 34 aanklagte van korrupsie wat verband hou met betalings van meer as R2,6 miljoen en huurbetalings van sowat R396 000 wat daarop gemik was om voormalige senior Eskom-amptenare te beïnvloed om kontrakte aan Tubular Construction Projects toe te ken. Hy is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan die vonnis vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer aan soortgelyke misdrywe skuldig bevind word nie. Hy sal ook as staatsgetuie in die hoofsaak optree. Sy ouderdom en ander faktore is tydens skuldigbevinding in ag geneem.
Kgomoeswana het skuld erken op aanklagte van korrupsie, geldwassery en belastingoortredings. Volgens die NVG het hy meer as R757 000 behou, nadat sy maatskappy gebruik is om korrupte betalings van meer as R6 miljoen aan ‘n voormalige senior Eskom-amptenaar te kanaliseer. Hy is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan 10 jaar vir vyf jaar opgeskort is, asook vyf jaar direkte tronkstraf vir belastingontduiking. Hy het ook ingestem dat bates ter waarde van meer as R2,4 miljoen verbeurd verklaar word.
Die twee is saam met ander beskuldigdes aangekla in verband met korrupsie rondom die opgradering van die Kusile-kragstasie tussen 2014 en 2017. Die saak teen Frans Hlakudi en Abram Masango word Vrydag 7 Augustus vir verhoor hervat.





