OOS-KAAP. – Twee liggame is Maandag deur die polisie se nuwe helikopter, ’n Airbus H125 tydens sy eerste operasionele vlug, in die Swartkopsrivier by Gqeberha opgemerk. Die liggaam van Curtis Samson (17) van Bloemendal, ‘n gr. 10-leerling, is herwin. Die identiteit van die ander liggaam is steeds onbekend.
Luidens ‘n verklaring van AO Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, is die helikopter Maandagoggend ontbied om lugsteun te verleen nadat Samson vermoedelik Vrydag in die rivier verdrink en ‘n soektog geloods is. Kort nadat die helikopter opgestyg het, het die bemanning twee liggame in afsonderlike dele van die rivier opgemerk. Die eerste liggaam is as Samson geïdentifiseer, terwyl die tweede, ’n onbekende man, nog nie geïdentifiseer is nie. Polisieduikers het albei liggame uit die water gehaal.
Nkohli sê vriende het glo Vrydag omstreeks 10:00 in die Swartkopsrivier geswem toe Samson in die moeilikheid beland en onder die water verdwyn het. Die polisie se soek-en-reddingspan van die K9-eenheid is ontplooi, waarna die soektog oor die naweek voortgeduur het.
Die polisie het twee afsonderlike doodsondersoeke geopen.
Terwyl Curtis nog gesoek is, het sy mede-orkeslede Sondag instrumente langs die water bespeel.





