Brekende Nuus
Afrikaans

25 jaar tronkstraf vir moord op Duitse toeris

Foto: NVG
Foto: NVG

MPUMALANGA. – Joseph Napoleon Nyalunga (38) is Donderdag deur die Mbombela-hooggeregshof vir die moord op Jorg Schnarr (67), ‘n Duitse toeris, tot 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Monica Nyuswa, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die hof het gehoor dat Schnarr op 3 Oktober 2022 saam met nog drie persone in ‘n minibus op die Numbi-pad na Mdluli Safari Lodge, naby die Krugerwildtuin, gereis het. ‘n VW Golf het hulle pad versper en die insittendes het op hulle geskiet. Schnarr is noodlottig in die bors getref. Nyalunga is vinnig deur die polisie in hegtenis geneem.

Oortuigende getuienis is deur die staat aangebied, insluitend ooggetuies, polisieverslae en bekentenisverklarings, asook ’n inspeksie in loco. Die vervolging het aangevoer dat Nyalunga ’n weerlose buitelandse besoeker wreed doodgemaak het en op ’n vonnis van lewenslange tronkstraf aangedring. Die hof het egter ’n effektiewe straf van 25 jaar direkte gevangenisstraf opgelê, nadat beveel is dat sommige vonnisse saam uitgedien word.

Nyuswa sê voorts Nyalunga is ook skuldig bevind aan poging tot roof, die onwettige besit van ’n vuurwapen en onwettige besit van ammunisie. Marshall Cebo Mamba en Bongumusa Matsane, sy twee mede-beskuldigdes, is weens onvoldoende bewyse vrygespreek.