Brekende Nuus
Afrikaans

Verdagte in hegtenis ná diefstal van voertuie by King Shaka-lughawe

Foto's: SAPD

KWAZULU-NATAL. – ’n 28-jarige verdagte is in Westville in hegtenis geneem nadat twee voertuie wat vermoedelik gesteel is, by ’n eiendom opgespoor is.

Polisiewoordvoerder, lt.kol. Amanda van Wyk, sê die verdagte is Donderdag in hegtenis geneem, nadat die grenspolisie se reaksiespan en speurders verbonde aan King Shaka Internasionale Lughawe inligting ontvang en ondersoek het oor die diefstal van ’n voertuig by die lughawe. Die inligting het die span na ’n adres in Westville gelei, waar die verdagte in hegtenis geneem is. ’n Toyota en ’n BMW is tydens die operasie gekonfiskeer.

Die span het ook ’n tweede voertuig opgespoor wat positief verbind is met ’n diefstalsaak wat in 2025 by Midrand-polisiestasie aangemeld is. Verdere ondersoek het volgens VAn Wyk aan die lig gebring dat vervalste dokumentasie aan ’n motorhandelaar voorgelê is om die voertuig aan te koop.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Durbanse landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort om vas te stel of hy moontlik met ’n voertuigdiefstalsindikaat verbind kan word.