GAUTENG. – Drie mense is Woensdagoggend vir rookinaseming behandel nadat sowat 600 bale gras by ’n dierevoerwinkel in die Shere-omgewing van Pretoria-Oos aan die brand geslaan het.
Die Volunteer Emergency Medical Reaction Unit (VEMRU) het kort voor 11:00 ’n oproep oor die brand ontvang. Werknemers van die winkel en omliggende ondernemings het aanvanklik probeer om die brand met brandblussers, brandslange en emmers te blus. VEMRU sê verskeie watertenkwaens van die Stad Tshwane se brandweerdiens het later opgedaag en die brandbestryding oorgeneem. Die drie mense is op die toneel deur ’n private ambulansdiens behandel.
Ondersoekers van Tshwane se nooddienste sal die oorsaak van die brand bepaal. VEMRU het Emergency Medical Solutions, die Stad Tshwane se nooddienste en die Lakes Security Forum NPC vir hul hulp op die toneel bedank.


