Brekende Nuus
Nuus

R1,1 m. in beweerde bedrogspul met erfporsie verloor

Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – Meer as R1,1 miljoen is glo van ’n klaer bekom in ’n beweerde erfporsie-bedrogspul (scam) waarin die slagoffer ’n bedrag van US$30,4 miljoen (sowat R600 miljoen) belowe is. Vyf beskuldigdes, waaronder twee maatskappye, bly in aanhouding in verband met die saak wat tot 2 November uitgestel is.

Kol. Avele Fumba, Valke-woordvoerder, sê die klaer is glo aangesê om klaringsfooie te betaal voordat die beweerde erfgeld uitbetaal kon word. Die klaer het na bewering meer as R1,1 miljoen oorbetaal voordat die bedrog ontdek is. Die Valke se span vir ernstige korrupsie-ondersoeke in Phalaborwa het die geldvloei ondersoek, verdere moontlike slagoffers geïdentifiseer en die beskuldigdes ingevolge Operasie Shayinduku in hegtenis geneem. Hulle het op 27 Oktober in die Bolobedu-landdroshof voorgekom en staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery.

Die saak is tot 2 November 2026 vir ’n formele borgaansoek uitgestel. Genl.maj. Gopz Govender, provinsiale hoof van die Valke in Limpopo, waarsku die publiek om versigtig te wees vir beloftes van vinnige rykdom.