OOS-KAAP. – Die polisie doen ’n beroep op die publiek om inligting te verskaf oor ’n vermeende padwoedevoorval waarin Shaune Marais (56) op 23 Oktober in Gqeberha doodgesteek is.
Volgens polisiewoordvoerders, kapt. André Beetge en kapt. Sandra Janse van Rensburg, was Marais was omstreeks 20:30 met ’n wit Honda Accord in Circular-rylaan, Lorraine, toe hy na bewering in ’n padwoedevoorval met die onbekende manlike bestuurder van ’n blou of silwer sportnutsvoertuig (SUV) betrokke geraak het. Volgens die polisie het die SUV-bestuurder Marais tydens die woordewisseling met ‘n skerp voorwerp noodlottig beseer. Marais het probeer verder ry, maar het kort daarna beheer oor sy voertuig verloor en teen ’n muur naby die kruising van Circular-rylaan en Henri Bothastraat gebots. Hy is op die toneel dood.
Lt.kol. Estelle Edwards van die Walmer-speurders doen ’n beroep op enigiemand wat die voorval gesien het, die SUV of sy bestuurder kan identifiseer, of oor enige ander inligting beskik wat die ondersoek kan help, om die polisie te kontak. Die voertuig se presiese fabrikaat en model is nog onbekend. Edwards kan by 079 520 3256 gebel word. Die ondersoek duur voort.

Foto: Chantal Luciano