Fufe Makatong, die LUR van gesondheid, het in ’n persverklaring belowe voor hierdie finansiële jaar om is, sal 579 pasiënte elk ’n rolstoel ontvang.
Makatong sê: “Dit behoort verligting te bring aan die agterstallige lys van aflewerings van rolstoele en ander mediese hulpmiddels soos krukke en looprame. Ek het die administrasie aangepor om te verseker pasiënte ontvang hulle rolstoele binne ’n redelike tydperk.”
“Rolstoele verbeter die pasiënte se lewens. Dit help hulle met hulle daaglikse take. Dit verlig ook uitputting en help teen depressie. Elke sitplek word pasgemaak en dit is krities om sekondêre komplikasies te voorkom,” verduidelik Makatong.
“Ek doen ‘n beroep op die gemeenskap om enige mediese hulpmiddels soos krukke, looprame en rolstoele terug te bring sodat ander pasiënte dit ook kan benut,” vra Makatong.