GAUTENG. – Die liggaam van ’n vyfde vrou is Maandagoggend in Olifantsfontein, naby Kempton Park, gevind, te midde van ’n ondersoek na die sterftes van vier vroue wie se liggame die afgelope sowat twee maande in die gebied ontdek is.
Volgens eNCA is die liggaam deur ’n verbyganger opgemerk wat op pad werk toe was. Die liggaam is langs ’n pad gevind, sowat 20 minute van die gebied waar die vorige vier liggame ontdek is. Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het volgens EWN bevestig dat die liggaam gevind is. Die liggaam was volgens die polisie gedeeltelik geklee en het kneusplekke gehad. Haar identiteit is nog nie bekend gemaak nie.
Die nuutste ontdekking volg nadat die liggame van nog vier vroue die afgelope sowat twee maande in die Kempton Park- en Rhodesfield-gebied gevind is. Die polisie het ’n multidissiplinêre taakspan van onder meer speurders van die moord-en-roof-eenheid en die ondersoekende sielkunde-eenheid saamgestel om die omstandighede van die sterftes te ondersoek.
Die polisie het kommerwekkende ooreenkomste tussen sommige van die gevalle uitgewys, maar beklemtoon dat daar nog nie bevestig kan word dat die moorde met ’n reeksmoordenaar verbind word nie. Die jongste ontwikkeling kom terwyl die soektog na die 38-jarige Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo voortduur. Sy het op 10 September gaan draf en nie na haar huis teruggekeer nie. Die polisie het nog nie bevestig dat haar liggaam gevind is nie.
Vroue in en om Kempton Park, veral in Rhodesfield, word aangeraai om ekstra waaksaam te wees en om nie alleen in afgesonderde gebiede te stap of te draf nie. Inwoners, motoriste, veiligheidspersoneel en ander lede van die gemeenskap met inligting oor verdagte aktiwiteite word gevra om na vore te kom. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, kan AO Elvis Manyike by 082 465 7249 kontak.
Nuusflits het polisiekommentaar gevra.
Bronne: SAPD, eNCA, EWN, Jacaranda FM, The Citizen/Kempton Express