Brekende Nuus
Nuus

Skoolrooftogte: verdagte dood, 4 in 2 voorvalle vas

Foto: SAPD

LIMPOPO. – Die polisie het vier verdagtes in twee afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem tydens ondersoeke na rooftogte by skole in Limpopo. Een verdagte is Woensdag in ’n skietery met die polisie naby Dendron dood en drie verdagtes is daar in hegtenis geneem. Die vierde verdagte is Dinsdag ná ’n hoëspoedjaagtog in Westenburg aangekeer in verband met ’n rooftog by ’n skool in die Thohoyandou-polisiëringsgebied.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie het saam met die Dendron-plaaswag en Tshimollo Investigation and Security opgetree nadat inligting ontvang is oor verdagtes wat na bewering rooftogte in Ramaswikwana in die Malebogo-polisiëringsgebied gepleeg het. Die span het omstreeks 07:00 ’n Volkswagen Polo naby Dendron opgemerk wat aan die beskrywing van die verdagtes se voertuig voldoen het.

Volgens Ledwaba het die insittendes op die polisie geskiet toe die voertuig stilhou. Die polisie het teruggeskiet. Een verdagte is dood en ’n gewonde verdagte is in hegtenis geneem en is onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem. Twee ander verdagtes is ongedeerd in hegtenis geneem. Die vyfde verdagte het volgens die polisie met ’n skietwond te voet gevlug.

Die polisie verbind die verdagtes met drie sakerooftogte wat die vorige nag in die Malebogo-polisiëringsgebied gepleeg is, asook met 10 ander rooftogte by skole in die Vhembe-, Capricorn-, Mopani- en Sekhukhune-distrikte. Daar is op die Polo, ’n vuurwapen en ammunisie, kontant, huisbraakgereedskap, klapmusse, handskoene en vermoedelik gesteelde goedere beslag gelê. Die vuurwapen is na bewering in Januarie tydens ’n huisroof in die Malamulele-polisiegebied gesteel.

Die drie verdagtes, tussen 26 en 36 jaar oud, sal na verwagting Vrydag in die Mogwadi-periodieke hof voorkom. Hulle staan tereg op aanklagte van moord ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste, poging tot moord op polisiebeamptes en die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie, huisbraakgereedskap en gesteelde goedere.

Dieselfde polisiespan het Dinsdag ’n 23-jarige bestuurder in die Westenburg-polisiegebied in hegtenis geneem ná ’n hoëspoedjaagtog. Die polisie het inligting ontvang dat verdagtes ná ’n rooftog by ’n skool in die Thohoyandou-polisiëringsgebied in ’n blou Toyota na Polokwane onderweg was. Toe beamptes die Toyota probeer stop, het die bestuurder weggejaag. Nadat die voertuig tot stilstand gekom het, het insittendes die bosse ingevlug. Die polisie het die bestuurder op die toneel aangekeer.

Die polisie het op die Toyota beslag gelê en ’n vuurwapen met ammunisie, twee skootrekenaars, ’n projektor, twee paar nuwe skoolskoene, ’n hoenderbraaipak van 5 kg, huisbraakgereedskap en 38 bokse sigarette gevind. Sake van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, vermoedelik gesteelde goedere en huisbraakgereedskap is geopen. Die bestuurder sou Woensdag in die Polokwane-landdroshof verskyn.