Brekende Nuus
Nuus

Vision verwag teen 1 Desember goedkeuring vir Tongaat Hulett-oorname

Foto: UASA

KWAZULU-NATAL. – Vision sê hy verwag teen Dinsdag 1 Desember ministeriële goedkeuring vir sy beoogde oorname van Tongaat Hulett se Suid-Afrikaanse suikerbedrywighede. Intussen het die suikerprodusent, met sy hoofkantoor in Tongaat, sy plaaslike bedrywighede begin afskaal nadat R350 miljoen se oorbruggingsfinansiering uitgebly het.

Gavin Dalgleish, uitvoerende hoof van Tongaat Hulett, het produsente gevra om van Woensdag af geen verdere suikerriet by die maatskappy se meulens af te lewer, tensy die maatskappy anders aandui. Produsente wie se vragte reeds onderweg was, is gevra om eers die bedryfspan te kontak. Die nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) het die bykomende R350 miljoen voorwaardelik goedgekeur en wou bevestiging hê oor hoe die geld terugbetaal sou word voordat dit beskikbaar gestel kon word.

Volgens Business Day sê Vision hy het reeds die Reserwebank se goedkeuring gekry, ooreenkomste met die Suid-Afrikaanse Suikervereniging afgehandel en finansiering met Standard Bank gereël. Vision beskou ministeriële goedkeuring as die enigste uitstaande vereiste. Die sakereddingspraktisyns het volgens dieselfde berig aangedui dat daar ook nog sake met die suikervereniging afgehandel moet word. Teen vandag (Donderdag) was daar nog geen bevestiging dat die ministeriële goedkeuring verleen is nie.

Tongaat Hulett het vroeër verwag om sowat R500 miljoen in November aan produsente te betaal vir riet wat reeds gelewer is, met verdere betalings in Desember. Die sakereddingspraktisyns kon Donderdag nog geen nuwe betaaldatums gee nie. Hulle sê die onderneming sal voorkeur gee aan die veilige verwerking van riet wat reeds by die meulens afgelewer is terwyl hulle voortgaan om tussentydse finansiering te probeer bekom.

Higgins Mdluli, voorsitter van SA Canegrowers, het die partye gevra om dringend oor finansiering ooreen te kom en die transaksie af te handel. Sowat 18 000 van Suid-Afrika se 28 000 suikerrietprodusente lewer aan Tongaat Hulett se drie meulens. Volgens Mdluli is die oorgrote meerderheid kleinskaalse produsente wat geen ander meule het waar hulle hul riet kan aflewer nie. Tongaat Hulett is sedert Oktober 2022 in sakeredding.

Bronne: Tongaat Hulett, EWN, Moneyweb, cbn.co.za, UASA, BusinessDay, sacanegrowers.co.za