WES-KAAP. – Ses mense is vanoggend (Dinsdag) vroeg in twee afsonderlike skietvoorvalle in die Kaap doodgeskiet, terwyl twee ander beseer is.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, kol. Andrè Traut, is die polisie kort voor 03:00 na Melckstraat in Ndabeni ontbied nadat ’n verbyganger aangemeld het dat drie vroue tussen 20 en 52 jaar oud en ’n volwasse man in ’n informele woning met noodlottige skietwonde aangetref is. Geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie en die omstandighede van die moorde word ondersoek.
Tydens die tweede onverwante voorval, ook kort voor 03:00, is die polisie na ’n skietery by die Maitland-begraafplaas in Voortrekkerweg, Kensington, ontbied waar vier mans met skietwonde aangetref is. Twee van die mans, onderskeidelik 35 en 36 jaar oud, is op die toneel dood verklaar. Die ander twee mans is vir behandeling na ‘n mediese fasiliteit geneem. ‘n Bendeverwante motief word as ‘n moontlikheid ondersoek. Geen inhegtenisnemings is gemaak nie.
Traut sê speurders ondersoek sake van moord en poging tot moord. Enigiemand met relevante inligting word gevra om die polisie te kontak.





