Brekende Nuus
Nuus

6 dood en 3 ernstig gewond in Worcester-skietery

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Ses mense is doodgeskiet en drie is ernstig gewond nadat ses gewapende mans met bedekte gesigte Saterdag vroegoggend, omstreeks 01:20, ’n erf in ’n informele nedersetting in Zweletemba, Worcester, binnegegaan en verskeie skote geskiet het. Vier mans en twee vroue is op die toneel dood. Die drie gewondes is na ’n mediese fasiliteit geneem.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, sê voorlopige inligting dui daarop dat die slagoffers om ’n vuur gesit het toe die gewapende mans op die woning afgestorm het. Provinsiale speurders wat ernstige geweldsmisdaad ondersoek, het ’n soektog van stapel gestuur. Die polisie ondersoek ses aanklagte van moord en drie van poging tot moord. Teen die tyd dat die verklaring uitgereik is, was niemand in hegtenis geneem nie. Die motief word ondersoek. Die polisie het nog nie die oorledenes se name bekend gemaak nie.

Enigiemand met inligting oor die insident word gevra om die polisie te kontak.