Brekende Nuus
Nuus

Lugmagvlieëniers geprys nadat hulle brand op Lohatla help stuit

Foto's: Sers. John Charlston Pienaar

NOORD-KAAP. – Majoors Jaun-Pierre du Preez, Charles Rossouw, Warren Jobe en Dakalo Mulomoni is geprys nadat hulle Donderdag met twee Oryx-helikopters gehelp het om ’n brand te stuit wat soldate se tente by die Suid-Afrikaanse Leër se Gevegsopleidingsentrum op Lohatla bedreig het. Die brand het tydens oefening Vukuhlome V uitgebreek.

Maj. Takalani Thomas Mulaudzi, operasionele kommunikasiebeampte, sê die twee helikopters van die Suid-Afrikaanse Lugmag het tydens die sewe uur en 30 minute lange operasie altesaam 204 000 liter water op die vlamme uitgegooi. Lt.kol. Ally Mosehlana, operasionele beplanner vir Vukuhlome V, sê grondbrandbestryders is ook ingespan, maar die vlamme het vinnig nader aan die tente beweeg. “Sonder die twee Oryx-helikopters sou ons nou van ’n ramp gepraat het,” het hy gesê.

Du Preez was in bevel van 17 Eskader se Oryx, met Rossouw as medevlieënier en vlugsers. Tshefu Xabisa as vlugingenieur. Dié bemanning het 80 vragte water uitgegooi. Jobe was in bevel van 22 Eskader se Oryx, met Mulomoni as medevlieënier en adjudant-offisier klas twee Ben Young as vlugingenieur. Hulle het binne 90 minute nog 22 vragte water uitgegooi. Elke vrag het 2 000 liter water bevat en is in ’n opvoubare Bambi-emmer onder die helikopter vervoer.

Kol. Mbekiseni Eshmond Ndlangamadla, senior stafoffisier vir operasies, het die lugbemannings en die personeel wat die reaksie gekoördineer het, bedank. Hy sê hul vinnige optrede het lewens en toerusting beskerm. Niemand is dood nie en geen eiendom is beskadig nie. Volgens Rossouw was die oorsaak van die brand ten tyde van die verslag nog onbekend.