WES-KAAP. – Die ondersoek na die moord op die 6-jarige Desney Struis van Visgat-plaas naby Witzenberg, Ceres, duur voort. ‘n 14-jarige seun is in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.
Volgens polisiewoordvoerder Thembakazi Mpendukana het die voorval op Dinsdag 7 Julie op ‘n plaas plaasgevind. ‘n Moordsaak is deur die Prince Alfred-Hamlet-polisiekantoor oopgemaak nadat die meisie, wat vermis was dood aangetref is. Die 14-jarige verdagte is kort daarna in hegtenis geneem en het op 16 Julie in die hof verskyn. Die dossier word deur Ceres-GKS ondersoek. Mpendukana sê die polisie kan weens die sensitiewe aard van die saak nie verdere besonderhede oor die ondersoek bekend maak nie.
Desney, ‘n leerling van Die Eike VGK Premêre Skool, is vroeër in Julie as vermis aangemeld. Sy is later ná ‘n soektog deur die gemeenskap dood aangetref. In ‘n emosionele boodskap het haar ma, Jolene Struis, haar dogtertjie as haar “beste maatjie” beskryf en gesê sy sal haar liefde en herinneringe vir altyd koester.
Bronne: SAPD, Jolene Struis, Radio Eersterivier, Cape Argus, IOL






