MPUMALANGA. – Die polisie het Donderdag ses verdagtes in hegtenis geneem nadat Sphiwosakhe Monate (21), ’n matriekleerling, buite Hoërskool L.D. Moetanalo in Mhluzi doodgesteek is. Hy het gesterf voordat hy die middag ‘n vraestel kon skryf.
Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ’n groep mans het Monate buite die skool aangeval. Monate is na ’n plaaslike mediese fasiliteit geneem, waar hy met aankoms dood verklaar is. Die ses verdagtes, tussen 16 en 20 jaar oud, sal na verwagting Maandag 23 November op ’n aanklag van moord in die Middelburg-landdroshof verskyn. Die motief is nog onbekend en die polisie verwag verdere inhegtenisnemings.
Gerald Sambo, woordvoerder van die Mpumalanga-departement van onderwys, sê Monate sou daardie middag sy tweede geskiedenisvraestel skryf. Volgens die skoolhoof se verslag het leerlinge omstreeks 11:00 tydens pouse gewaarsku dat mense buite die skoolterrein gewag het om met Monate en nog ’n leerling te baklei. Twee leerlinge het kort daarna gerapporteer dat Monate gesteek is. Die departement het sy medelye met die familie betuig en sal psigososiale ondersteuning aan die familie en geraakte leerders en onderwysers bied. Die eksamen by die skool sal met die nodige ondersteuning voortgaan.