KWAZULU-NATAL. – ’n 7-jarige seun was Woensdagaand in in ‘n huis toe drie gewapende mans twee mans in die Qedumona-gebied van Amaotana geskiet het. Een man, 30, is doodgeskiet en ’n tweede man is gewond. Die seuntjie is ongedeerd.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê ‘n oproep om hulp is omstreeks 19:50 ontvang. Volgens Rusa was die twee mans saam met die minderjarige seun in die hout-en-sinkhuis toe die drie verdagtes te voet daar opgedaag het. ’n Woordewisseling het glo ontstaan voordat die mans geskiet is.
Die gewonde man is voor Rusa se aankoms op die toneel met ’n privaat voertuig hospitaal toe geneem, terwyl die tweede man glo dood is toe hy in die voertuig gelaai is. Rusa-paramedici het hom op die toneel dood verklaar. ’n Afgevuurde 9 mm-patroondoppie is op die toneel gevind.
Volgens getuies het die aanvallers jonger as 20 jaar voorgekom.