OOS-KAAP. – ’n Seun (7) is Donderdag dood toe sy 8-jarige neef na bewering met ‘n gelisensieerde vuurwapen wat aan die pa behoort op hom geskiet het. Die voorval het kort voor 13:00 in Nothintwa, Kwaaiman, plaasgevind.
Kapt. Welile Motyolo, polisiewoordvoerder, sê die ouer seun het toegang tot die vuurwapen in sy pa se slaapkamer gekry, dit op sy neef gerig en ’n skoot het afgegaan. Die sewejarige is op die toneel dood.
’n Saak van moord is teen die kind geopen, maar hy is intussen na maatskaplike werkers verwys. Sy pa (48) word deur ’n aanklag van versuim om ’n vuurwapen veilig te bewaar in die gesig gestaar. Hy is op waarskuwing vrygelaat en moet vandag (Vrydag) in die Mqanduli-landdroshof voorkom.
Die polisie se ondersoek duur voort.





