Brekende Nuus
Nuus

8 mans in voertuig doodgeskiet

Foto: Ter illustrasie

KWAZULU-NATAL. – Agt mans is Sondagaand in ’n voertuig langs die pad in die Mabane-gebied van Sweetwaters, buite Pietermaritzburg, doodgeskiet. Die polisie het ’n moordondersoek begin.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê beamptes het berig van ‘n skietery ontvang, waarna ’n wit sewesitplekvoertuig vol koeëlgate aangetref is. Al agt mans in die voertuig het verskeie skietwonde gehad. Hulle is op die toneel dood verklaar.

Die polisie het nog nie die oorledenes geïdentifiseer of vasgestel hoe die skietery ontvou het nie. Ondersoekbeamptes samel bewyse op die toneel in om die verdagtes te identifiseer en ’n moontlike motief vas te stel. Die polisie sal verdere besonderhede bekend maak nadat die toneelondersoek afgehandel is.