Brekende Nuus
Nuus

Kleuter nog nie wakker uit koma ná verstikking nie

Foto: Ruan van der Merwe TikTok

GAUTENG. – Luandré van der Merwe (2) is steeds in ‘n geindusseerde koma in die Netcare Waterfall City-hospitaal in Midrand nadat hy op 19 Oktober glo by sy kleuterskool aan ’n piesang verstik het. Sy ouma sê daar is boonop drie virusse by hom tydens sy hospitaalverblyf gediagnoseer. Sy pa sê die plan om hom Sondag uit ’n medies geïnduseerde koma wakker te maak, is na vandag (Maandag) verskuif.

Ruan van der Merwe sê op sy TikTok-rekening Pappa se Monkey dat die omvang van enige breinbesering eers beoordeel kan word wanneer Luandré wakker word. Hy het ook in kommentaar op ‘n videoplasing gesê dat regstappe teen die kleuterskool en die dokterspraktyk wat hom aanvanklik tydens die voorval behandel het, oorweeg word.

Ruan en sy ma Estelle van der Merwe bly om die beurt langs Luandré se bed. Estelle sê ná die verstikking het Luandré opgegooi en vir sy bottel gevra. Toe ’n onderwyseres met die bottel terugkom, het hy reeds blou geword. Hy is na ’n dokter geneem, waarna paramedici sy sorg moes oorneem. Nadat hy gestabiliseer is, is hy per ambulans na ’n skoolterrein geneem, waar ’n helikopter met hom na die hospitaal in Midrand gevlieg het.

Luandré word in die pediatriese waakeenheid behandel. Die familie se opdaterings gee geen bevestiging van waar hy die virusse opgedoen het nie. Volgens Estelle val die hospitaal buite die netwerk van die familie se mediesefondsplan en moet hulle 30% van die hospitaalrekening betaal. Die familie het ’n BackaBuddy-veldtog begin om met die koste te help en vra vir gebed vir Luandré se herstel.

Bronne: Ruan van der Merwe TikTok- Pappa se Monkey, Estelle van der Merwe BackaBuddy