KWAZULU-NATAL. – ‘n Ongeluk in Empangeni vroegoggend op Moedersdag het die lewens van agt persone op die N2 in ‘n noordelike rigting na die Mthunzini-tolhek geëis. Volgens ‘n verslag het een van die voertuie 24 Zion Christian Church-lede (ZCC) na Dukuduku, in Mtubatuba, vervoer.
Ndabezinhle Sibiya, die woordvoerder vir die departement van vervoer en menslike nedersettings in KZN, sê in ‘n verklaring die ongeluk tussen ‘n Scania-vragmotor en ‘n Hyundai H-1, met die kerklede, laat ‘n donker wolk oor die provinsie hang. ‘n Sleepvragmotor het glo in die agterkant van ‘n bakkie vasgery wat tot die sterftes gelei het. Agt van die insittendes wat gesterf het, sommige erg vermink, was kerklede. Nog insittendes wat beseer is, is vir mediese behandeling na hospitale geneem.
“Ek het ‘n verslag van ons toegewyde span van die Padverkeersinspekteurs ontvang wat my ingelig het oor die gruwelike ongeluk wat die lewens van nege mense geëis het, meestal moeders. ‘n Toegewyde span van my kantoor is aangewys om met die kerk en families in verbinding te tree,” sê Siboniso Duma, die LUR vir die departement.
Duma het opdrag gegee dat padverkeersinspekteurs onmiddellik met die padverkeersbestuurskorporasie in verbinding tree om ‘n ondersoek na die ongeluk te loods. Daar is vanoggend bevestig die bestuurder van die vragmotor is deur die polisie wat ‘n strafbare manslagsaak ondersoek, in hegtenis geneem. Slegs drie beseerde persone is steeds in die hospitaal. Amptelike uitkenning van die oorledenes vind vanoggend by ‘n Richarsbaai-lykshuis plaas.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê dié diens het hulle na die ongelukstoneel tussen ‘n ligte afleweringsvoertuig en ‘n vragmotor gehaas. Op die toneel is bevind agt insittendes was reeds dood voordat nooddienste arriveer het. Paramedici het 16 beseerde insittendes op die toneel behandel waarvan vier kritiek en 12 ernstig beseer is.


Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





