GAUTENG. – ’n 82-jarige sakeman wat Woensdag op sy sakeperseel in die Roodepoort-sakegebied ontvoer is, is later dieselfde dag deur die Roodepoort-polisie ongedeerd gered. Vyf verdagtes tussen die ouderdomme van 25 en 31 is in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Volgens die polisie het twee van die verdagtes voorgegee dat hulle kliënte is, waarna hulle die bejaarde man met geweld oorrompel en in ’n wagende Quantum-minibustaxi ingedwing het. Twee ander verdagtes was reeds in die voertuig, en die groep het vinnig van die toneel gevlug. Die polisie is van die voorval in kennis gestel. Nadat inligting op die toneel bekom is, is ‘n operasie geloods. Die ondersoek het die polisie na Tshepisong in Roodepoort gelei, waar die slagoffer kort daarna opgespoor en suksesvol bevry is. Al vyf verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem.
Die polisie se ondersoeke duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





