VF Plus oor departement van basiese onderwys se riglyne oor geslagsidentiteit in skole

Lees ook :

Fotokrediet CANVA

Die VF Plus het sy mening gegee oor ‘n dokument in hulle besit waarin die departement van basiese onderwys riglyne gee oor geslagsidentiteit en die voorsiening wat daarvoor in skole gemaak moet word.

Dr. Wynand Boshoff VF Plus-LP en hoofwoordvoerder het gister ‘n mediaverklaring uitgereik waarin hy sê hierdie riglyne is slegs aan ‘n beperkte gehoor bekendgestel.

Nadat vrae aan die uitvoerende gesag gevra is, het die VF Plus geen antwoorde teruggekry nie.

Hy lig van die riglyne uit wat voorstel dat badkamers in skole met privaat hokkies toegerus moet word sodat leerders van enige geslagsidentiteit privaatheid gegun word.

Daar mag ook nie aangedui watter toilette aan watter geslagte toegeken word vir gebruik nie.

Lees die volledige verklaring hier:

𝐃𝐞𝐩𝐚𝐫𝐭𝐞𝐦𝐞𝐧𝐭 𝐠𝐞𝐞 𝐫𝐢𝐠𝐥𝐲𝐧𝐞 𝐨𝐨𝐫 𝐢𝐧𝐬𝐥𝐮𝐢𝐭𝐢𝐧𝐠 𝐯𝐚𝐧 𝐯𝐞𝐫𝐬𝐤𝐢𝐥𝐥𝐞𝐧𝐝𝐞 𝐆𝐄𝐍𝐃𝐄𝐑 𝐈𝐃𝐄𝐍𝐓𝐈𝐓𝐄𝐈𝐓𝐄 𝐨𝐩 𝐬𝐤𝐨𝐨𝐥: ‘𝐧 𝐕𝐨𝐨𝐫𝐛𝐞𝐞𝐥𝐝 𝐯𝐚𝐧 𝐩𝐞𝐫𝐤𝐞𝐥𝐨𝐬𝐞 𝐢𝐧𝐝𝐢𝐯𝐢𝐝𝐮𝐚𝐥𝐢𝐬𝐦𝐞

Mediaverklaring uitgereik deur:

🟢 𝐃𝐫. 𝐖𝐲𝐧𝐚𝐧𝐝 𝐁𝐨𝐬𝐡𝐨𝐟𝐟

VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Basiese onderwys

3 November 2022

Die VF Plus is in besit van ʼn dokument wat die departement van basiese onderwys se riglyne vir die insluiting van verskillende gender-identiteite in skole bevat. Hierdie riglyne is egter nog slegs aan ’n beperkte gehoor bekendgestel.

Die uitvoerende gesag het skriftelike vrae van die VF Plus hieroor onbeslissend beantwoord en het ook versuim om te reageer op ’n ledeverklaring wat Dinsdag na aanleiding daarvan in die parlement gemaak is.

Hierdie versuim versterk die indruk dat dit amptelik is, maar tans uit die openbare oog gehou word.

Een van die riglyne in die dokument is dat skole badkamers met private hokkies moet toerus sodat leerders van enige gender-identiteit in totale privaatheid kan aan- en uittrek en toilet toe gaan.

Geen teken mag buite vertoon word om sekere kleedkamers aan sekere geslagte toe te wys nie. Dit, terwyl puttoilette nog voorkom.

Administratiewe riglyne word ook gestel, insluitend dat leerders nie volgens hul sogenaamde “dead name” aangespreek mag word nie. Dit is die naam wat aan hulle toegeken is voor die besluit om met ʼn ander gender te identifiseer.

Die VF Plus se waarneming is dat die ideologie van radikale individualisme hiermee die beheer oor onderwys neem.

Die algemene siening is dat elke mens ’n vryswewende individu is, wat letterlik oor alles ’n keuse kan uitoefen – in hierdie geval selfs oor geslag.

In die radikale individualisme lê gemeenskapsnorme die individu aan bande – selfvervulling is eers moontlik indien dit verbreek word. Die enigste geskikte optrede vir familie- en gemeenskapslede is om die individuele keuse te steun.

Die VF Plus verteenwoordig ’n ander siening van die mens se plek in die wêreld. Die individuele mens is ondenkbaar sonder die gemeenskap – word selfs verwek deur gemeenskap. Die gemeenskap word uit gesinne en families opgebou en vorm weer deel van groter gemeenskappe, kultureel en polities.

’n Ordelike samelewing kan nie sonder gemeenskapsnorme bestaan nie. Nogtans is daar binne enige gemeenskap uitsonderings, of mense wie se persoonlike identiteit nie met die gemeenskapsnorme saamval nie.

’n Totalitêre gemeenskap wat die norme afdwing, word inderdaad nie voorgestel nie.

In ’n liefdevolle en funksionele gemeenskap word uitsonderings erken en gerespekteer, maar steeds as uitsonderings beskou.

Elke gemeenskaplikheid, van die huwelik tot badkamers by skole, kan nie opnuut gekonseptualiseer word, asof die uitsondering die norm is nie.

Die VF Plus steun skoolbeheerliggame wat die gemeenskapsiening in hul skole wil handhaaf.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief