KAAPSTAD. – Vinnige optrede deur die polisielede van Faure se eenheid vir openbare orde het ’n vroulike verdagte (49) op ’n klag van beweerde dwelmhandel agter tralies laat beland.
Lede was Dinsdagoggend besig met polisiëring en deursoekingsoperasies in Gugulethu toe hulle inligting vanaf ’n besorgde burger ontvang het. Inligting rakende ’n moontlike dwelmbergingsfasiliteit op ’n perseel in Bonganistraat, New Cross Roads, Gugulethu is aan die polisielede verskaf.
Die perseel is dopgehou en daar is waargeneem hoe talle mense besoek afgelê en items afgelewer het.
Daar is ’n deursoekingsoperasie op die perseel gedoen. Lede het beslag op 14 770 Mandrax-tablette, drie pakkies tik, ses sakke tik, klein hoeveelhede los tik en ’n klein hoeveelheid kokaïen ter waarde van R1 miljoen gelê.
Die verdagte sal sodra sy aangekla is in die Athlone-landdroshof verskyn.
Bronne: SAPD, Twitter





